speelpark in die winter
hierdie herfskoue klouter onder my vel in
en gly langs my bloed stroom af
soos ‘n jillende kind in ‘n
verlate kleindorpse
speelparkie
waar rooibruin blare die grond vlek,
‘n bewende kat skuil in ‘n waterpyp:
en goudvisse snak na asem
in die ronde plastiekbak
op ‘n hout vensterbank
van die ou tannie se asbeshuis
vandag het ek jou stem weer gehoor -
die wind stoot dit deur my hare, en
jou woorde troos teen my oor -
waar ek langbeen duiselig koud
in die geroeste swaai wieg
en wieg en wieg en wieg
maar
jy verdwyn in die stilte van die nag
want jy bly nooit meer lank nie:
jy is die lang skaduwee wat oor my val,
my dae nerf af laat
en my laat bloei van verlange
na jou moedersarms om my:
jy gaan my ook mis
jy is ook die wete dat somer
miskien weer kan kom;
die gebed van beskerming
van kleins af
wat steeds jou longe vul
al is jy so vreesaanjaend stil
O, Vader! as hierdie winter ons net kan
verbygaan
-mM




